Zimbabwe – P. J. Philander

Zimbabwe (1968) is ’n epos (is dit? ’n baaaaie lang verhalende gedig…) in kwatryne. Dit handel oor ’n vrou, Ulali, wat ’n slagoffer van beide die koloniale patriargie, so wel as die van haar eie stam word. Die teks open met natuurbeskrywings wat deurgaans verweef bly in die narratief en dit eindig met Ulali se soeke na troos en genesing in die landskap self. Vandag het ek ’n wonderlike boek, A-Z of African writers deur Robin Malan, op ’n uitverkoping by Wordsworth gekoop. Dit is ’n “guide to modern African writing in English”. Dit is merkwaardig hoeveel van die skrywers in hul mees bekende aanhalings na hul geboorteland as hul eerste liefde verwys. Met ’n hartstogtelike liefde. Een van die skrywers, hoeka van Zimbabwe, Yvonne Vera, wie se romans en novelles niks anders as suiwer poësie is nie, voer dieselfde aan: “Have I ever told you of my love for Bulawayo? It is the longest love affair I have had – landscape.” Die eerste uittreksel uit Zimbabwe is vir my besonders omdat dit vir my verbeeld hoe die landskap vir Ulali nie net ’n vaderland, maar ’n moerland is:

 

“Alles swel mooier,

maak knop, word vrug

of skarlakener, rooier

hou die blom sy fallus terug

 

tot die wind sy saad

losskud en laat val

in die klam klimaat

vir die pers brinjal.

 

Genaelstring lê die Nyl

aan sy embrionêre meer.

Dae lank het hulle geseil

op die branding aangeveer;

 

deur tepels rudimentêr

die klappers leeg gesuig;

opgeefsels koorsig ver

sien stort tot die laaste duig.”

 

Dan drie strofes oor ’n tradisionele masker wat sy vir haar seun maak:

 

“Nimra se oë vonkel een jaar oud,

sy wisseltande glim in gelid

in ’n masker van heilige mvulihout

gekerf uit kwaslose binnepit

 

voor die sap deur die vate

met aanwas van die maan

vergom het in hol gate

waardeur die wêreld gadeslaan.

 

Mens kyk deur maskers na mekaar

en ken net die omhulsel

waarin jy die wit gewaar

van tande en oë se warm vulsel.”

 

En, laastens, twee strofes wat haar finale toevlug in haar landskap vooruitwys:

 

“Die priester vra my lewe nou…

Eers was dit dié van my kind,

waarom moes ek ooit ’n vrou

word, liewer net ’n strik, ’n lint,

 

vlegsel tot in die waai,

borspoort vir die bessiesap,

’n biesiepol as ek wil baai,

’n enkelpaadjie om in te trap.”

Advertisements

Shakespeare in Afrikaans

Goed, ek weet ek dwaal hier af. Shakespeare is nie Afrikaans nie. Ek sou kon redeneer dat van die merkwaardigste Afrikaanse poësie ook maar vertaalde werk uit ander tale is. Ek dink maar aan sommige van Krog en Krige se werk. Maar Macbeth kan ek nie in die strengste sin van die woord, al probeer ek dit hóé na my doel dwing, kanoniseerbaar as Afrikaanse poësie ag nie. Dit is nie eens in sy oorspronklike vorm ’n versdrama nie. Maar gister het ek André P. Brink se vertaling van Richard III gelees en dit was fantasties! My eerste Shakespeare teater-belewenis was ook in Afrikaans. Dit was Marthinus Basson se produksie van Die Storm in 2007 met Antoinette Kellerman as Prospero. Ek was ook nie gekeur om Engels eerstetaal op skool te neem nie, maar in Dramakuns het ons Midsomernagdroom behandel. In my eerste jaar op universiteit het Eitemal se vertaling van Hamlet my ook gered van my eerste intimiderende ontmoeting met Elisabethaanse Engels (ná Chaucer was ek maar dun geskaaf). Vandag begin met Macbeth en die volgende twee passasies, beide deur Lady Macbeth het my laat besluit om dit ook te blog. Die vertaling is deur Eitemal:

 

                              “Kom hierheen, julle geeste,

Wat moordgedagtes dien, ontvrou my hier,

en vul my boorde vol van kroon tot toon

Met wreedheid gruwelik! Verdik my bloed;

Verstop elke weg en toegang tot berou,

Dat geen weekhartige stem van die natuur

My velle doelwit skok, geen wrede wil

En daad sal skei! Kom aan my vroueborste

En drink my melk vir gal, julle moordtrawante,

Waar julle ook onsigbaar in jul wese

Natuur se boosheid dien. Kom, donker nag,

Bedek jou met die hel se rouswart rook.

Dat my skerp dolk nie die wond sien wat hy steek,

Of die hemel deur die donker dekkleed loer

Wn skreeu: “Wag! Wag!” (Bedryf 1, Toneel 5)

 

en

 

                                   “Ek het gesoog

En ken die liefde vir die suigling aan

My bors, maar ek sou, terwyl hy oulik lag.

My tepel uit sy sagte tandvleis ruk

En sy brein verpletter, as ek deur ’n eed soos jy

Gebind was tot die daad.” (Bedryf 1, Toneel 7)

 

Selfs as verhoogte spraak is dit so rou! Só Shakesperiaans! Wou dit net deel.

Naggesprek en ander gedigte – W. E. G. Louw

Die titel gedig is ‘n lang gedig. 27 bladsye lank. Maar dit lees heerlik maklik. Dit is baie soos die gedig wat ek gister geplaas het, maar hierdie een het hy vir sy broer (N. P. van Wyk Louw) geskryf. Dit is insiggewend omdat dit so bio- en outobiografies is, maar op so ‘n persoonlike wyse. Dit is merkwaardig om iets van die verhouding van die broer-digters raak te lees. Die gedig lees soos ‘n brief, wat dit is. Twee grepies oor die Woord uit “Naggesprek”:

“En toe het ons avontuur begin

met woorde wat ‘n lewe lank sou duur.

Want woorde is die wee na die hart,

waarmee mens tastend – soos ‘n blinde op goed geluk –

na ander mense soek, saam uitgespoel

in een gesamentlike nood; maar meer:

ook na die waarheid en die hart van dinge”

en

“Dit was lees, maar meer as lees, ook lewe:

nie net agter die woorde aan, want woorde –

het ons begin besef – was sin, was klank,

maar meer as blote klank van tong en lip;

was drif, meer selfs as drif: verlossing ook

van drif, ‘n wyse om daaroor te heers,

dit diensbaar te maak aan eie innerlike gees.”

En dan het ek die volgende behalwe mooi, ook baie amusant gevind, omdat in een van my posts oor Ernst van Heerden ek ‘n kort gedig oor ‘n slak geplaas het waarin die slak se spore met skrif vergelyk word. Daarna het ek drie gedigte van ander skrywers geplaas wat skrif en die spore van diere aan mekaar gelykstel. Toe lees ek dit raak, nogal ge-onderstreep deur die vorige leser:

Uit: “Geloftedag, 1967”

“Seeslakke skryf hierogliewe

soos spore van die waansin neer.

Hul soek die see en sterwe stil

– hier aan sy rand – van waternood.”

Maar dit net tersyde.  Ek sluit af met ‘n kort maar roerende gedig:

Bitter winter

Wat se mens as dit skemer word,

as oor die vlei die wilde eende

met ver verlate skreeue vlieg?

Wat weet mens in die winternag

as die slaap van jou gewyk het en jy

met oop oe in die donker le?

Is woorde dan nog nodig? Of weet

jy dat die sterflikheid soos reen

diep tot in die wortel week?

Opvlugte en Opdragte – W. E. G. Louw

Ovlugte en Opdragte (1980) van W. E. G. Louw blyk ‘n keur van meestal ongepubliseerde gedigte te wees wat na sy dood saamgevat is. Daar is ‘n interessante insetsel in die bundel deur Rosa Louw oor die digter se planne voor sy dood oor verdere verse. Ook fotos van manuskripte en van die sogenaamde “Deure van die Dood” wat die Italiaanse beeldhouer Giacomo Manzu vir die St. Pieterskerk in Rome gemaak het. Hierdie deure het die digter blykbaar gefassineer en sou as inspirasie vir sy laaste gedigte dien. Die eerste gedig wat ek hier voeg is blykbaar ‘n kwatryn wat hy in ‘n besoekersboek van ‘n natuurtuin in Montagu geskryf het. Sal seker maak om die tuin te besoek as ek Montagu-langs reis, en die gedig daar gaan soek:

Geskryf in die Besoekersboek

Natuurtuin, Montagu

 

Hier le die son gevang en vlak gekelk

in vygie, vuurpyl, alwynblom;

en in die winter draai die westewind

sy langgerekte drade krom.

Die volgende gedig, meer so nog as die vorige een, plaas ek uit sentiment. Dit het my so aangegryp om die stukkie nalating uit sy persoonlike lewe te lees. Dit is hoe ek ook ‘n paar van my vriende sal onthou:

Albumblad

Vir Gerrit

 

Jy het in daardie jare in die Kaap

tussen Bybels, konkordansies en almanakke,

De Brede en de Smalle Weg, meer as boeke –

maar van hulle net die mooistes – aangebied:

ook prente, weefwerk, glas en skilderye,

kortom, alles wat die mens se hand kan maak;

en daarmee, onsigbaar vir die oog, maar in die gees

‘n stewige brug geslaan tussen ons twee lande,

duursamer as die van handelskommisarisse

en politici. Maar tog had boeke –

ook vir jou – altyd die eerste plek:

verhale, romans en verse, ja, verse veral.

Jy had ‘n manier wat ek nooit by ander

so opgemerk het nie: om iemand ‘n nuwe boek

in die hand te le, met ‘n glimlag, ‘n enkel woord

wat hom onverwag voor ‘n vergesig kon plaas.

Ek skuld jou baie: Gossaert, Bloem en Holst,

maar bowenal – Jan Hendrik Leopold.

En by die helder naam onthou ek skielik

‘n winteraand by jou in Bantrybaai.

Dit was ek en Fred, ons drie, na ‘n rustige maal,

ontspanne in die kerslig met ‘n glasie wyn.

Maar die see daar buite voor die vensterraam was kwaai,

so naby en dreigend swart, dit was of hy

elke oomblik die ruit kon stukkend slaan,

die kamer binnedring en alles verwoes.

Jy het self gelees, as ek reg onthou, soos altyd

ingetoe, sonder stemverheffing; en tog

klink bo-oor die see se dreuning hierdie woorde:

“En dan is wit en wit op wit … ”

Hulle sou ek nooit vergeet nie; en slegs nou,

in hierdie jare dat ons albei ouer word

– jy bly my darem altyd ses jaar voor! –

klink hulle net so helder, want ‘n goeie vers,

soos goeie wyn, word met veroudering beter;

en daarom bly hulle – oor sowat vyftig jaar,

by alle dryging en kranklikheid en dood

– die vete waarin ons ‘n lewe lank

betrek word en eindelik tog magteloos blyk –

‘n skakel in die ketting wat die vriendskap smee,

Tristia – N. P. van Wyk Louw

Tristia het ek gelees met die interessante en ontroerende geskiedenis van N. P. van Wyk Louw en Sheila Cussons se verhouding, soos Joan Hambidge daarna verwys in haar hartverskeurende roman Judaskus. Maar die eerste gedig het my opgeval omdat ek onlangs Ingrid Winterbach se Die Benederyk gelees het en sy baie na Piero dello Francesca se fresco’s verwys. Ek’t sy werk geGoogle en sal nooit weer anders daarna kyk nie. Ook nie ná dié gedig nie:

 

Piero dello Francesca

 

Ek puur in hierdie skuins kolf

die suiwer vorm van die syn

uit al die drel van ‘wíl-wees’ en

uit ‘voel’ en ‘meen’ se swym.

 

Wat ís, straal majesteitelik lig

en ís ómdat dit ís –

soos Vis nie hoef bewys te bring

dat Hy: Vis is.

 

En in dié heerlike, vol, Syn

leef Stof en Vorm en Waan

strak en Angelico-van-lyn:

maar: maar: deur my: elkeen

gebrandmerk met Bestaan.

 

En dan is daar iets omtrent die teerheid van die volgende gedig wat my raak:

 

XXXIII

 

Ons kan nie praat: nie jy met my nie:

want in my rens liefde spartel

jou woorde soos vlieë wat verdrink;

ek nie met jou nie: waar ek praat,

weet ek dat elke woord van my

agter die deure van jou oor

ingewag, nek-om-gedraai

word deur jou stil haat. Nie óns nie,

nie psigoloë, psigiaters nie

kan die soutkors van die woestyn breek.

Alleen ’n godheid sou kon hulp bring:

die woestyn weer laat groen maak

wat sy verneukpan-agtige

skilfermodder in ons kom lê het;

water laat uitbreek in die dro pan

en breekysters onder my logiese

intellektualiteit índryf.

Nuwe Verse – N. P. van Wyk Louw

Van N. P. van Wyk Louw het ek reeds Alleenspraak, Die Halwe Kring (1937).

Gestaltes van Diere (1942) en Raka gelees. Om die waarheid te sê, my eerste kennismaking met Van Wyk Louw was op tien-jarige ouderdom toe my tweede oudste broer, toe in matriek, met wie ek ’n kamer gedeel het, entoesiasties die openingsreëls van Raka voorgelees het en die res van die storie vir my min of meer opgesom het. Ek was absoluut bekoor met die gedagte van hierdie “aap-mens”. Ek wou op daardie stadium ook baie graag eendag ’n akteur wees. Ek skryf toe my eie weergawe van Raka met die oog om dit vir die sang-klas op te voer. Die sang-juffou was effe benoud toe ek die Vrydag aankondig dat my tweede konsert (na my debuut, die vorige week met my weergawe van C. J. Langenhoven se se spookstorie, Die Wandelende Geraamte) Raka is. Ek was egter salig, onskuldig onbewus van die viriele, driftig-erotiese ware Raka en my rendisie was ook redelik “westers” (sekerlik tot die juffrou se verligting). Ek het die volledige Raka eers op hoërskool gelees. Nie as voorgeskrewe werk nie. Maar saam met ’n vriendin wat saam met my gegrief was dat daardie voorreg ons ontneem is. Ja, ek is ’n bleeksiel. In elk geval, my keuse uit Nuwe verse is vier kort ongetitelde verse wat in die bundel presies so op mekaar volg:

 

 

Ons klein en silwrige planeet

is ryker as die gode weet

 

die koring is ’n heuningsel

waaruit die goue aarde wel

 

die wingerd is ’n sooi-geel bron

wat uit die erts prut na die son

 

ek sny die brood en drink die wyn

en hou my hart van gode rein.

 

                    *

 

Die dye trek die dye aan

die see leun teen sy strande aan

 

die eensaam saad die soek sy voor

die lig wil in die netvlies boor

 

en áls is enkeld, áls verlang

 

en heel die driftige verband

laat stort U oor U glas se rand

 

                     *

 

’n Donker kern in die lig

en óm die lig ’n donker sfeer

en al die straling is gestuit

en rusteloos en gaan en keer

en tas die duister mure af;

en al die wêreldwande wíl

trug in die kern stort en rus;

en alles sterwe sterwe stil

 

                     *

My oë tas die wêreld af

en hou ’n wonder glans gevang

is so ’n web van dink en wens

dat Wese na die Skyn verlang:

 

die meeu vlieg oor die laaste woord;

die wit seewater soos die wieg

is sonder woord of antwoord skoon,

en alle Diepte moet bedrieg.

Buffalo Bill – Breyten Breytenbach

Die gedig wat ek in vandag se post voeg, uit vandag se bundel, Buffalo Bill deur Breyten Breytenbach, is “Die veroweraars”. Die gedig het homself so onmiddelik en met soveel vors aangemeld met die lees van die bundel. Wat my persoonlike lees van die gedig besonders gemaak het is dat dit vir my gevoel het of die spreker beide die onderdrukker so wel as die onderdrukte kan wees. Maar dit is net my ervaring:

 

Die veroweraars

 

         omdat ons hulle nie as mense wou erken nie

het alles wat menslik is in ons verdor

en kan ons nie ween oor ons sterfgang nie

         omdat ons niks ander wou hê as vrees en haat

het ons die mense-opstand vir menslikheid nie herken

en skor oplossings prober vind maar te laat

die blomme in die vuur

 

niemand stel belang in ons oplossings nie –

 

ons is verby verstaan

ons is andersoortig

ons is die kinders van Kaïn

 

         omdat ons in wellus ons op God wou beroep

het God ons woorde hol gemaak en tevergeefs

roep ons nou in binnekamer en op tuin en op stoep

in holtes dat ons uitverkorenes is

 

niemand stel belang in ons haat en ons vrees –

 

die vrugte verrot aan die boom ook die stronke

versand op die land die olie en sout word min

die hand van die arbeider los die ploeg

en soek wapens

geweers sal niks help nie         dié word geneem op ons gerig

want ons is reeds uit die tyd   teikens vir ontwrigting

tekens van uitwissing              wat in die tyd sal vervaag

 

         omdat ons daardie bloed mildelik wou skenk

het dit al hoe meer geword te swaar vir ons hande

die hande wat ons in die sooie giet

wolke vol stemme

 

en niemand stel belang in ons dood of talent –

 

wat oorbly is leë postal is baadjie is myn

wat sal oopsny tot mens-wees stol dié skielike pyn

van onterfde alleen-reis in die wit kol