Valreep / Stirrup-cup – Elisabeth Eybers

Die volgende gedig uit Elisabeth Eybers se Valreep / Stirrup-cup (2005) is een van die aangrypendse en vreesaanjaende gedigte oor die lot van ’n ouerwordende kunstenaar met die dood in oënskou:

VERSINSELS

Versinsels is eerstens ’n soort van bedryf

om dinge wat onderling klop op te skryf,

die gees te verhef bo die lydsame lyf:

versinsels wil graag hul uiterste doen

om liggaam en siel met mekaar te versoen,

nie soseer om die werklikheid te onthul

as om sy tekortkominge aan te vul.

Wat van voortgesette versinsels nou?

Hoe lank kan jy hulle nog blindelings vertrou

om jou dag na dag op die been te hou?

Verf en vlam – Sheila Cussons

Cussons is een van my eerste liefdes as leser. Die Swart Kombuis (1978) bly een van my hoogtepunte in my lees-lewe. Ander bundels van haar wat ek al onder oë had is: Plektrum (1970), Die Sagte Sprong (1979), Die Somer-jood (1980), Die Woedende Brood (1981), Verwikkelde lyn (1983), Membraan (1984) en Die Knetterende Woord (1990) en vir hierdie post Verf en Vlam (1978):

 

H. TERESA VAN AVILA OP ’N SENDING

 

Sy bid deur die transparantheid van gebed

sien sy die hooi op die land

en deur die transparantheid van die hooi

en die land sien sy die woorde van haar gebed.

 

Die ou koets ruk en stamp en die ou nonne

by haar murmel die rosekrans

met klik van krale: sy sien met die oë

van haar pynende liggaam dat hulle bleek van die hitte

is, en haar gees bejammer hulle, dié gees

wat verbý die rosekrans en deur die transparantheid

van die somerlandskap ver reeds klim in die gloed

van Sy mAjesteit: nie meer vir haar, lank

nie meer die Tuinier wat die akkr van die siel

natlei met milde genade en mededoë nie

maar nou ’n steil brandende weg op in ’n yslug op

na die sneeue, die siërras van Sy guns –

Hy wat verblindend waai op Jan van die Kruis

so ook met haar – Maar in die streng vervoering

roer hy haar lippe meganies om syfers toe te koetsier,

’n ruie man, meteens die perde vloek, en sy bereken:

As ons ons kaarte reg speel, Heer, (U is óók Joods)

en ons kan daardie skending kry, kan ek

maar weer deur die benerige arts gebloei

en geradbraak word, dus help vandag U sakevrou …

 

Die ou koets ruk en stamp: sy weet nie

hoe wit sy is van pyn – haar swaar lyf in sy swart

is van homself al jare skaars bewus – die hitte seng …

 

hoog oor Sy sneeuende siërras loop sy lenig

en somme maak en por Hom vrymoedig tot die daad.

 

Interne verhuising – Joan Hambidge

Die lewe en digkuns van Sylvia Plath is ’n gereelde onderwerp in Joan Hambidge se poësie. In haar roman Judaskus bring sy op aangrypende wyse die verhouding van Sylvia Plath met Ted Hughes so wel as Sheila Cussons se verhouding met N. P. van Wyk Louw s’n in verband met die van die protagonis. In ’n onderhoud het Lina Spies eenmaal gesê dat haar mentor, D. J. Opperman haar as jong digter aangemaan het om weg van haarself en haar eie ervarings te skryf en om haar onder iemand anders se vel in te dink. Hier, in haar bundel Interne verhuising (1995) doen Hambidge dit beeldskoon met Plath:

Sylvia Plath in selfgesprek

 

Daar bly niks oor –

poësie spruit soos bloed – soos lewensbloed.

 

Dis alles goed

’n woord spruit uit voor die voet.

 

Ek laat melk en brood

vir my twee serpente – op pad na die ander oord.

 

Aans vou ek hulle terug

in my liggaam soos blare gerig.

 

In my stil-stil are bloei

die nag se reuke. Gloei

 

die maan my bondgenoot se afsydige lig.

Gewoond aan dié soort ding – deeglik afgerig.

Verdraaide raaisels – Joan Hambidge

En vandag is dit weer bietjie en afskeid soos net Hambidge kan. Die volgende twee gedigte het dit net vir my so getrou aan hoe ek dit beleef raak gepen:

 

SUSPENSION OF DISBELIEF

 

Soms, net soms raak ek nog aan jou ketting om my nek

(tuis gelaat ter wille van diewe in Rio; om die voedoe wat jy wek

insgelyks af te werk).

 

Soms, net soms raak my hande nog aan my lyf

(agtergelaat weens verbrokkeling; nog vanweë jou verblyf

met ’n nuwe geliefde).

 

Soms, net soms evraar ek nog gevoel in my geamputeerde hand

(afgekap in dié ongeluk; word in ’n vuur verbrand

saam met ander afval).

 

Soms, net soms ervaar ek pyn in my nuwe hart

(oorgeplant in nood; ’n lewer-, nier-, en hart-

operasie ten einde te herstel).

 

Soms, net soms hoor ek jou stem in my private drome

(oorgelaat aan die toeval; die werking van dié drome

lei skynbaar tot herstel).

 

 

En dan veral in lyn met gedagtegange wat onlangs so soortgelyk in my gemoed gemaal het:

 

 

VERS LIBRE

 

Ander mense staan ’n geliefde af aan die dood –

ek verloor myne in lewende lyf.

 

Ander mense staan sublieme geliefdes af aan die dood –

myne word deur banaliteite van ander vermink.

 

Ander mense staan stil geliefdes af aan die dood –

myne word deur luide geskinder opgekerf.

 

Ander mense staan ewige geliefdes af aan die dood –

my geliefde net tydelik, hier, nou.

 

Ander mense staan geliefdes af aan die dood –

ek verloor myne aan die woord.

Lykdigte – Joan Hambidge

In Lykdigte (2000) gaan Joan Hambidge om met die dood en die afhandeling en sinmaak van ander se lewens. Sy skryf lykdigte van verskeie Afrikaanse digters, maar ook van wêreld-literati en van haar vriende en familie. Daar was ’n hele paar wat ek wou plaas, waaronder die volgende gedig. Ek het toe maar op hierdie een besluit omdat die vorige post my eerste oor Elisabeth Eybers is:

ELISABETH EYBERS

Die predikantsdogter van Wes-Transvaal

promoveer van intieme moederskap-

en herinneringsvers tot optekenaar

van verlies: leef ver van jou goed

en na aan jou poëtiese wins, of bly

ná aan jou vers en vér van jou minnaar.

Meet in ’n liniaalland iets onmeetbaars

soos ingeperktheid, eensaamheid, kilheid.

In die omgekeerde teleskoop van verdriet

registreer sy beelde in ’n sober tussentaal.

Soms laat die digter die voordeur oop,

’n lig aan of laat die ketel oorkook: ’n beeld

glibber in die donker voornag …

Voetjie vir voetjie, stadig, langsaamaan

word mens woordimmigrant: tel die woorde jou af,

reguleer die ritme jou lewe soos die tik-tak

van ’n wekker ’n slaaplose steur.

Ironie word ’n bloeiwyse, die kruis

en munt van ’n bloederige bedryf.

Leer ritmies reflekse van oorlewing aan,

selfs siekte se slopende houvas met rym bedwing.

Iewers staan geskryf: die digter leef haar

gedigte soos ’n slegte gewete of herinnering af.

Flink afgerig vir iets soos kil ironie,

word sy meester van die pynlike prosodie.

Noodluik – Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers bly een van my allergunsteling digters. Van haar het ek reeds Belydenis in die Skemering (1936), Die Stil Avontuur (1939), Die Vrou en Ander Verse (1945), Tussengang (1950), Die Helder Halfjaar (1966), Onderdak (1968), Kruis of Munt (1973), Die Ander Dors (1975), Einder (1977), Bestand (1982), Dryfsand (1985), Teëspraak (1991), Respyt (1993) en Nuweling (1994) gelees. Dit voel dus vreemd om nou eers oor haar te blog. Uit Noodluik (1989) plaas ek:

OPGAWE

 Al die gure gewaarwordings warrelig verwerk

uit krenkbaarheid, instulping, selfsug en so

het my weggaan geteken. Eenselwigheid,

’n ononthegbare binnehuid, strek

tussen my en die strak grou-en-groen plattegrond

wat verdwaasde asielsoekers gasvry verstrik.

Ruimte, misterie, wanorde, tragiek

van ’n maatloos ontembare kontinent

was ín my gevesel, hoe kon ek krim

tot voorgeskrewe omgeweingsmimiek?

Ek ondervra die verlede nogsteeds,

sprokkel destyds gesmokkelde brokkies liriek.

Gesteelde appels – Joan Hambidge

Met die lees van Gesteelde appels (1989) staan ek verbeysterd voor Joan Hambidge se produktiwiteit. Ek’t al twee ander bundels gelees wat sy in dieselfde jaar geskryf het en bygesê het sy ook in byde die voorafgaande en daaropvolgende jaar gepubliseer. Dalk is dit ook oor die vorige twee posts dat die gedig wat ek daaruit plaas ’n herhalende boom-beeld bevat, maar dis oor meer as dit. Die gedig is net eenvoudig vrek mooi:

Ars poetica

 

Bome gaan dood

in my en jou: van afstel

kom die finale uitstel.

 

Bome gaan dood

om my en jou: herinneringe

in verbeelde museums geliaseer.

 

Bome gaan dood

deur my en jou: Jode

begrawe ’n godslasterlike posseël.

 

Bome gaan dood

tussen my en jou: ’n groen

sissende slang in die paradys.

 

Bome gaan dood: ’n bitter appel

in sirkels geskil.

 

As jy kan, lees die hele bundel. Hierde was die inleidende vers en dis besonders hoe sy die beeld van die appel wat geskil word ontgin en deurvoer.