About versvraat

Ek is 'n onakademiese, oningeligte, leke liefhebber van die digkuns.

grond/Santekraam – Ronelda S Kamfer

Kamfer se werk het ek die eerste keer deur haarself nvoorgelees op RSG gehoor. Enkele seleksies uit hierdie bundel. Met die lees van grond/Santekraam (2011) is ek egter oortref. Die volgende gedig is so slim geskryf en van die beelde daarin word ontvouend in die res van die bundel deurgevoer en op ander wyses ontgin:

 

onderwater

 

meerminne sing: daar kom die Alibami die Alibama

                             die kom oor die see

 

oom Geelstert spring op uit die water en die son

skitter op sy silwer lyf

 

hy skel: Alibama Alibama daai blerrie gomgatte

           blerrie snoekvisse

 

meerminne sing: daar gaan die Alibama die Alibama

       die sink in die see

 

tannie Domvrou Groot de Wit skil baba-ogies

vanaand gaan Pa Groot de Wit lekker mensvleis

braai in haar underwater palace met kraakbeen

en met eksotiese seegras versier sy weet sy is ’n haai

van aansien

 

meerminne skinder:  kyk wat het ons hier

                                    die donnerse vrou-vis in die

                                    water en haar man-vid

                                    met die neusprobleem

 

tannie Domvrou Groot de Wit sak haar kop

en blaas my man se probleem is privaat en trek

haar antieke visnetgordyne toe

 

meerminne sing: bring vir die harlekyn nog

                            wyn rooi wyn vir sy leef en leed

                            en pyn

 

Mislikte Mitchy mammin sit voor die spieël

’n halwe vrou-vis is sexy ’n halwe man-vis

is ’n frak

double standars are endless maar wie

voel

wat ons is almal onder die water

en of the day we’re all just soaking wet

 

meerminne sing; ek ken ’n ou ou liedjie

 

Klippie Klipkop sit net vas onthou

van duisend jaar gelede toe hy nog

bo die water was

 

Malane Makriel kom teen ’n dronk

spoed aangeswem

doef! teen Klippie Klipkop vas

blerrie fool skel sy

 

Malane Makriel is uit die skool geskop

oor sy seaweed aan Sally salman probeer

verkoop het

 

meerminne sing: goeiemore my sonskyn goeiemore my kind

 

die afkopskeep roer

en bo die water sing ’n nuwe dag

Die lewe tussen pikkewyne – Jasper van Zyl

Jasper van Zyl het in 2005 reeds as tiener in die Nuwe Stemme 3 (wat ek vandag halfpad gelees het en nog oor moet blog) gepubliseer, maar hierdie bundel, Die lewe tussen pikkewyne (2011), is sy debuut, en vir my heel opwindend, My keuse daaruit is:

 

emma

 

toe emma haar eerste maandstonde kry

het dit sag gereën in die agterplaas.

haar ma troos: “nou’s jy vrou”

en emma gaan slaap in die brandende woud.

haar pa, ’n forse weermagman, wis niks,

want sy kind slaap steeds

op die lang sitkamersofa

in sy arms wat lankal lam is van vrees.

vir haar is dit ’n serebrale ervaring,

’n lig wat in die hemel skyn

soos in ’n wikde dagdroom

as sy dink, dink sy vir twee

en slaap in die arms van haar vader,

’n land in puin, waar helikopters

stotter bokant die ontbossing

Akwarelle van die dors – Johan de Lange

Wat die volgende gedig beteken kan ek nie met gesag sê nie, maar vir my is dit mooi. Dit kom uit Johan de Lange se Akwarelle van die dors (1982):

 

Nag bloei uit die oë van diere.

 

Nag bloei uit die oë van diere.

Die bome, struike en plante

word opgevreet deur swart miere.

 

Die pyn gloei fel in my spiere

soos wit lig in diamante.

Nag bloei uit die oë van diere.

 

Deur al die verlate ure

roer niks, en selfs die straatklanke

word opgevreet deur swart miere.

 

In my liggaam brand die vure

soos sonsondergang teen rante.

Nag bloei uit die oë van diere.

 

Ek val, en rooi angeliere

in my hulpelose hande

word opgevreet deur swart miere.

 

Dood leef nou in al my kliere

en my hulpelose hande

word opgevreet deur swart miere.

Nag bloei uit die oë van diere.

 

 

En dan vir ’n slag ’n gedig oor liefde en verlange:

 

 

Sinopsis

 

Jy is nou al maande weg

maar ek drink jou terug

in elke beker, elke glas

wat in jou warm hande was.

 

Jou asem hang in elke vertrek

soos stof-oue sigaretrook,

jou afwesigheid kom lê saans

kaggelkoud in my bed.

 

Vir my is jy nou werkliker

in elke leë stoel, die halfvol bed,

in elke soen waarmee ek saans

die kerse blus.

Neerslag – Elisabeth Eybers

En soos met al die boom- plant- en blom-gedigte wat ek ná die S. J. Pretorius post raak gelees het, is dit nou mens-gedigte, ontologiese gedigte wat hul aanmeld in my tog deur die Afrikaanse poësie. Die volgende dus uit Elisabeth Eybers se Neerslag (1956):

BEHOUD

 

Die mensdier het hom moeisaam uit

die trae oerslym opgerig,

vlymoë bang en onbereid

voel blikker in sy stomp gesig,

 

met al sy sintuie leer waak,

vóór kloue in sy vlees kon sink

die nederige gebaar maak,

as kuddedier kan leef en draf en dink.

 

Maar hy wat liefs eenlopend is,

ver van die warm trop wegswerf,

moet ligvoet sluip, sy spore wis,

uit usterklip ’n pylpunt kerf,

 

aan ’n gespanne boogsnaar pluk

om luisterend die klank te beur,

met sy gespitste binneblik

deur ’n geheime ruigte speur;

 

en waag sy porsie wee-en-wel

ter wille van die edel spel.

 

 

En die volgende vraag na die soeke na die Syn: die vraag oor geslag:

 

 

JONG SEUN

 

Why were we crucified into sex?

Why were we not left rounded off,

and finished in our selves?

                         D. H. LAWRENCE

 

Die seun klim druipend uit die bad,

sy hele lyf is gaaf en glad

 

en heel tot in die holte van

sy nael waaroor ’n seepbel span.

 

Strak ledemate, ribbekas

hoekig en hard soos ’n kuras,

 

handdoek en hand staan hy bereid,

gerig en toegerus tot stryd.

 

Tog, onvolkome afgerond,

hoe sal die lewe hom nog wond:

 

in sy Achilleskern vind

hy geen beskutting – man of kind:

 

geheg aan die benedebuik

waar blink haarrankies raads ontluik,

 

deuraar, teer soos ’n ooglid, sag

soos murg, hang weerloos die geslag.

Die skitterende wond – Sheila Cussons

In die vorige post het ek ’n gedig geplaas deur Johan de Lange waarin die god-mens verhouding op interessante wyse verbeeld word. Dit natuurlik ’n heersende tema in sy mentor, Cussons, se poësie. Vervolgens ’n pragtige gedig uit haar Die skitterende wond (1979) oor die aard en posisie van die mens in die kosmos:

BOUWERK

Die groot uiterstes

behoef geen argitektuur:

die salige lig straal

gestalteloos soos ’n engel

die duisternis mok

amorf in homself

maar tussenin dans

dol soos ’n katedraal

bont

soos ’n harlekyn

dié menswees uitgeterg

tot haglike argitektuur.

Wat sag is vergaan – Johan de Lange

Dat Sheila Cussons Johan de Lange se mentor was is altyd vir my interessant omdat die hul onderwerpsmateriaal van hul poësie so verskillend is. Dié gedig daarenteen, uit De Lange se Wat sag is vergaan (1995) het wel ooreenstemmende elemente: die mistieke, mitiese en kosmiese. Maar met ’n heel ander interessante inslag:

 

DAKSKILDERY

 

Was hy,  Michaelangelo,

agnostikus? Straks nar?

Iewers glo ek vas

dat God verminktes

goed begryp: aan eie

bas vir hulle boet.
Of Michaelangelo

het vyfduims verbrou:

’n ekstra toon prul

uit die goddelike

linkervoet.

 

         God

aanstormend

’n engelekoor in sy uit-

bollende mantel

steek ’n vinger

oor die leegte

 

uit, blaas

in die nog on-

volmaakte

gees. Iets

geweldigs stroom

uit dié vinger,

die gewronge gewrig.

En Adam, reik-

halsend om te word,

vind sy onnosel geluk

deur dié benul ontwrig.

Rymdwang – Elisabeth Eybers

.Deesdae voel dit vir my al meer of gedigte oor bundels, skrywers en tydperke heen mekaar antwoord soos ek een bundel na die ander lees. Natuurlik bloot omdat mens altyd verbande wil opspoor tussen tekste en dit tot drama van jou eie binnewêreld wil versoen. Só het die volgende gedig uit Elisabeth Eybers se Rymdwang (1987) vir my byna as troos gevoel vir wat die vorige post in my los gemaak het:

EERSTE SNEEU

Vyandelike bitter oostewind,

sodra’l my veilig agter glas bevind

vergeef ek jou. Want kyk hoe saggies dra

jy elke aparte ragfyn donsvlek na

die knekelharde grond om saam te smelt

tot één groot wit weerlegging van geweld.

Goed, hierdie een edit ek ‘n dag later by, maar ek moes net:

MISKIEN

Die saaiste deugde wat jy kan bedink

– uithouvermoë, selfontsegging – blyk

ten slotte dwingend, kan nie meer ontwyk

word wanneer elke tinteling versink.

Onwrikbare voorbeskikking kom straks uit,

die allesweters wis tóg, sal jy sien

sodra jou sin en sintuie faal. Miskien

is dit God self waarop jy eindelik stuit:

die hiëroglief vir alles wat begrip

en definisie uittart en ontglip.

Maar wat vir jóú aan hierdie denkbeeld raak

het iets met liefde en met musiek te maak.