Ruggespraak – Joan Hambidge

Met gister se post was dit vir my ‘n plesier om ‘n gedig deur dieselfde skrywer as die vorige post te plaas met ‘n soortgelyke beeld as dié uit die gedig in die voorafgaande post, in dié geval, die blom. Gister se gedig het deels gehandel oor geweld. Vandag se gedig, “Hirosjima, mon amour” uit Joan Hambidge se Ruggespraak (2002) beskryf op aangryplike wyse iets van die nastroom van dit wat dalk die grootste daad van geweld in die geskiedenis van die mensdom is:

Hirosjima, mon amour

 

Vroeër kon ek op ‘n reis na ‘n verre land

in vele verse uitbloei soos ‘n kersieboord in Kyoto:

rooi swoel vrugte in oordaad.

Verloor egter my pen in Hirosjima

boonop ‘n silwer een met my naam daarop gegraveer

iewers tussen 5 of 6 nm., meen ek, op die 17de Januarie

in die Vredespark. My naam, my naam is soek …

Elke jaar op 6 Augustus

sien begenadigdes dooies astraal ronddwaal.

Ruïnes staangemaak deur herinnering kom tot lewe.

Alles word soos dit was, asof ‘n goddelike herspeelknoppie gedruk.

Dan raas die fietsie van Shinichi Tetsutani

deur die tuin en jy sien Sadaki Sasaki vlieërs bou. Alle glasskerwe

word skynende ligte en ‘n foto van beton ‘n lewende man.

Alle swelsels sak soos mis voor ‘n hoopvolle son.

Vliegtuie is weer net vervoermiddels en uraan

‘n blote simbool op die periodieke tabel.

Alle verlore penne kry dan lewe

in eensgesindheid grif hulle in onuitwisbare ink hierdie woorde.

Snel grys fantoom – Johan de Lange

In gesprek met die vorige post uit die bundel wat daarop volg: Snel grys fantoom (1986):

 

OOR BLOMME EN BOMME

 

Oor blomme het ek dikwels gedig, meneer,

blomme en stiltes en spieëlings.

Ek is verwyt omdat elke blom

Nie ’n motorbom was nie

(blomme klink soos bomme),

en elke snoeiskêr

nie ‘n mes teen die wit

keel van ‘n lelie.

Daar is beweer: ek het nie deel

aan die lewe nie. Mag wees, mag wees.

Tóg. Blomme en stillewes en spieëls:

Is als nie eintlik ‘n spel

Met verhoudings nie? Blomme besweer:

Die engele het Mefistofeles met blomme

Gebombardeer. Bomme en stillê en skerwe.

Kon ek deelword van ‘n ander se pyn

Wat nie langer pyn is nie,

maar gewoonte en wanhoop en lot,

sou ek dalk eerder geleer het

poësie is ‘n bloeiwyse, niks meer.

 

Poësie is bloeiwyse, meneer.

Waterwoestyn – Johan de Lange

Om weer terug te keer na die onlangse post oor S. J. Pretorius en die daaropvolgende posts met boom- en plant-digte, die volgende twee gedigte deur Johan de Lange uit sy bundel Waterwoestyn (1984). Dit het my aan die volgende aanhaling van Hennie Aucamp laat dink: “Het dit al ooit by ’n sensuurraad opgekom om blomme te verbied? Praat van openlike seksualiteit.”

 

Ontmoeting

 

Taai speeksels gom vorder traag

teen die stamme af. En stol.

Gespikkelde orgideë wys vinnig

’n fluwelige binneste

waarbinne die rooi plantvleisie

liggies tril. Waterdruppels glip

oor ’n uitgeswelde onderlip.

 

 

Magnolia

’n stillewe

 

Ongeskonde melkheuning skulp

in die oggend, en teen die middag

vrugbare vrou met ligbruin tepels.

 

Soetjies drink sy die water

en laat stadig haar blare oop-

vou en vermenigvuldig

haar muskusgeure deur die lug

vlaag op vlaag, swel oop voor

die dringende skaarse trillings

van sy windsagte flanke,

oker kneusings aan haar lyf,

 

en laat glei klein poeiergeel

pers-gepunte sade uit haar sy.

Valreep / Stirrup-cup – Elisabeth Eybers

Die volgende gedig uit Elisabeth Eybers se Valreep / Stirrup-cup (2005) is een van die aangrypendse en vreesaanjaende gedigte oor die lot van ’n ouerwordende kunstenaar met die dood in oënskou:

VERSINSELS

Versinsels is eerstens ’n soort van bedryf

om dinge wat onderling klop op te skryf,

die gees te verhef bo die lydsame lyf:

versinsels wil graag hul uiterste doen

om liggaam en siel met mekaar te versoen,

nie soseer om die werklikheid te onthul

as om sy tekortkominge aan te vul.

Wat van voortgesette versinsels nou?

Hoe lank kan jy hulle nog blindelings vertrou

om jou dag na dag op die been te hou?

Verf en vlam – Sheila Cussons

Cussons is een van my eerste liefdes as leser. Die Swart Kombuis (1978) bly een van my hoogtepunte in my lees-lewe. Ander bundels van haar wat ek al onder oë had is: Plektrum (1970), Die Sagte Sprong (1979), Die Somer-jood (1980), Die Woedende Brood (1981), Verwikkelde lyn (1983), Membraan (1984) en Die Knetterende Woord (1990) en vir hierdie post Verf en Vlam (1978):

 

H. TERESA VAN AVILA OP ’N SENDING

 

Sy bid deur die transparantheid van gebed

sien sy die hooi op die land

en deur die transparantheid van die hooi

en die land sien sy die woorde van haar gebed.

 

Die ou koets ruk en stamp en die ou nonne

by haar murmel die rosekrans

met klik van krale: sy sien met die oë

van haar pynende liggaam dat hulle bleek van die hitte

is, en haar gees bejammer hulle, dié gees

wat verbý die rosekrans en deur die transparantheid

van die somerlandskap ver reeds klim in die gloed

van Sy mAjesteit: nie meer vir haar, lank

nie meer die Tuinier wat die akkr van die siel

natlei met milde genade en mededoë nie

maar nou ’n steil brandende weg op in ’n yslug op

na die sneeue, die siërras van Sy guns –

Hy wat verblindend waai op Jan van die Kruis

so ook met haar – Maar in die streng vervoering

roer hy haar lippe meganies om syfers toe te koetsier,

’n ruie man, meteens die perde vloek, en sy bereken:

As ons ons kaarte reg speel, Heer, (U is óók Joods)

en ons kan daardie skending kry, kan ek

maar weer deur die benerige arts gebloei

en geradbraak word, dus help vandag U sakevrou …

 

Die ou koets ruk en stamp: sy weet nie

hoe wit sy is van pyn – haar swaar lyf in sy swart

is van homself al jare skaars bewus – die hitte seng …

 

hoog oor Sy sneeuende siërras loop sy lenig

en somme maak en por Hom vrymoedig tot die daad.

 

Interne verhuising – Joan Hambidge

Die lewe en digkuns van Sylvia Plath is ’n gereelde onderwerp in Joan Hambidge se poësie. In haar roman Judaskus bring sy op aangrypende wyse die verhouding van Sylvia Plath met Ted Hughes so wel as Sheila Cussons se verhouding met N. P. van Wyk Louw s’n in verband met die van die protagonis. In ’n onderhoud het Lina Spies eenmaal gesê dat haar mentor, D. J. Opperman haar as jong digter aangemaan het om weg van haarself en haar eie ervarings te skryf en om haar onder iemand anders se vel in te dink. Hier, in haar bundel Interne verhuising (1995) doen Hambidge dit beeldskoon met Plath:

Sylvia Plath in selfgesprek

 

Daar bly niks oor –

poësie spruit soos bloed – soos lewensbloed.

 

Dis alles goed

’n woord spruit uit voor die voet.

 

Ek laat melk en brood

vir my twee serpente – op pad na die ander oord.

 

Aans vou ek hulle terug

in my liggaam soos blare gerig.

 

In my stil-stil are bloei

die nag se reuke. Gloei

 

die maan my bondgenoot se afsydige lig.

Gewoond aan dié soort ding – deeglik afgerig.

Verdraaide raaisels – Joan Hambidge

En vandag is dit weer bietjie en afskeid soos net Hambidge kan. Die volgende twee gedigte het dit net vir my so getrou aan hoe ek dit beleef raak gepen:

 

SUSPENSION OF DISBELIEF

 

Soms, net soms raak ek nog aan jou ketting om my nek

(tuis gelaat ter wille van diewe in Rio; om die voedoe wat jy wek

insgelyks af te werk).

 

Soms, net soms raak my hande nog aan my lyf

(agtergelaat weens verbrokkeling; nog vanweë jou verblyf

met ’n nuwe geliefde).

 

Soms, net soms evraar ek nog gevoel in my geamputeerde hand

(afgekap in dié ongeluk; word in ’n vuur verbrand

saam met ander afval).

 

Soms, net soms ervaar ek pyn in my nuwe hart

(oorgeplant in nood; ’n lewer-, nier-, en hart-

operasie ten einde te herstel).

 

Soms, net soms hoor ek jou stem in my private drome

(oorgelaat aan die toeval; die werking van dié drome

lei skynbaar tot herstel).

 

 

En dan veral in lyn met gedagtegange wat onlangs so soortgelyk in my gemoed gemaal het:

 

 

VERS LIBRE

 

Ander mense staan ’n geliefde af aan die dood –

ek verloor myne in lewende lyf.

 

Ander mense staan sublieme geliefdes af aan die dood –

myne word deur banaliteite van ander vermink.

 

Ander mense staan stil geliefdes af aan die dood –

myne word deur luide geskinder opgekerf.

 

Ander mense staan ewige geliefdes af aan die dood –

my geliefde net tydelik, hier, nou.

 

Ander mense staan geliefdes af aan die dood –

ek verloor myne aan die woord.